Announcements

Oproep om referate

1ste Kongres van die Afrikaans Taalkunde-en-Letterkundevereniging

Pretoria, 7-10 September 2027

Tema: Kinese

 

Dit is die Departement Afrikaans en Algemene Literatuurwetenskap van die Universiteit van Suid-Afrika se plesier om belangstellendes na die eerste ATLV-kongres uit te nooi. Dié byeenkoms bou voort op die laaste konferensie van die Afrikaanse Letterkundevereniging, gehou in Bloemfontein in 2025. Tydens die laaste geleentheid is die ATLV in die lewe geroep met die doel om ’n verenigde Afrikaanse akademiese landskap te verken en te karteer. Kinese, die beweging of verandering van ’n organisme in reaksie op ’n bepaalde stimulus, vorm daarom ʼn gepaste kongrestema.

Ons wag voorstelle in oor enige onderwerp binne Afrikaanse letterkunde, Afrikaanse taalkunde, Afrikaanse taalonderrig en enige aanverwante dissipline. Referate duur 20 minute met tien minute vraetyd. Paneelbesprekings duur 60 minute en sluit enige vraetyd in.

Voorlegging van referaat- en paneelvoorstelle

Referaat- en paneelopsommings mag nie meer as 300 woorde beslaan nie en moet die volgende inligting bevat:

  • Titel van referaat- of paneelbespreking
  • Naam van aanbieder(s)
  • e-posadres van aanbieder(s)
  • Affiliasie

Neem kennis dat die kongres ruimte vir slegs twee paneelbesprekings bied. Dit is die sameroeper se verantwoordelikheid om die nodige paneeldeelnemers te vind en te lei. 

Opsommings moet teen 30 April 2027 met hierdie skakel ingedien word.

Enige navrae omtrent die kongres kan aan ATLV2027@unisa.ac.za gestuur word.

Registrasie, kongresfooi en addisionele inligting

Inligting oor die kongresfooi en registrasie sal binnekort op die ATLV se webwerf gelaai word. Die webwerf sal ook inligting oor verblyf- en vervoermoontlikhede, die name van die organiserende komitee en detail oor die hoofsprekers insluit.

Kongreslokaal

Die kongres word by die Suid-Afrikaanse Akademie vir Wetenskap en Kuns se perseel gehou: Ziervogelstraat 574, Pretoria.

Omskrywing van die kongrestema

Die begrip kinese dien as oorhoofse tema vir die 2027-kongres van die ATLV en leen sigself tot ’n wye verskeidenheid interpretasies en toepassingsmoontlikhede.

Op ’n kosmiese skaal, sê die astrofisika, oefen planete, sterre en sterrestelsels geweldige, onsigbare kragte op mekaar uit terwyl die kleinste denkbare partikels eweneens volgens die kwantumfisika pal aan die beweeg is. Ook op aarde is kinese aan die orde van die dag: die stadige en voortdurende verskuiwing van die kontinente, die nimmereindigende eb en vloed van die oseane, die oordrag van energie en die omskakeling van materie van een fisiese toestand na ’n ander (waarvan die watersiklus ’n voor die hand liggende voorbeeld is), asook die talle biologiese prosesse waarvan lewende dinge afhanklik is soos fotosintese, respirasie, en stofwisseling. Álles wat groei en sterf ondergaan trouens ’n vorm van kinese. Die Griekse filosoof Heraklitus se aforisme panta rhei (“alles vloei”) blyk dus eeue later steeds min of meer korrek te wees en word geëggo in moderne clichés soos “die enigste konstante is verandering”.

Die literêre veld kan in sy geheel as ’n komplekse, kinetiese sisteem beskou word. Verskillende rolspelers (skrywers, uitgewers, agente, boekhandelaars) doen mee aan die produksie van literatuur, terwyl hekwagters (prysgewers, beïnvloeders, resensente, navorsers) ’n belangrike maar aanvegbare kanoniseringsfunksie verrig. Die wisselwerking tussen al hierdie verskillende komponente en subsisteme in die literêre sisteem is nog lank nie deurgrond nie. Intussen behoort akademici tred te hou met die belangrike wendings in die Afrikaanse letterkunde en kritiese vrae te stel, soos: Watter literatuuropvattings, metodologieë en teorieë is vroeër gehuldig, maar het intussen uitgedien geraak? Welke nuwe strominge, bewegings en diskoerse kan daar vandag in die Afrikaanse literatuur bespeur word? Hoe verskuif die norme en maatstawwe vir “literêre waarde” en watter nuwe hiërargieë kom tot stand? Hoe “beweeg” individuele literêre tekste, oeuvres, genres, style en tradisies oor grense heen (bv. transnasionaal, transtalig, transmodaal)? Welke grense word oorskry?

Tematies is daar talle opsies vir kineties-gerigte ondersoeke. Oorweeg byvoorbeeld die verskynsel van mobiliteit in literatuur: die tweeledige (soms teenstrydige) impuls van die mens om te wil swerf én êrens te wil tuishoort, soos dikwels vergestalt in reisnarratiewe en memoires; die omstredenheid rondom migrasie (wettig én onwettig), vreemdelingehaat, die spanning tussen inkomelinge en boorlinge, kultuuroordrag en hibriditeit. Daar is ook die korporele en somatiese aspekte van kinese: hoedat die liggaam in fiksie verbeeld word, lyflike performatiwiteit, erotiek, die liggaam as voertuig van beweging, maar ook as inperking (soos ervaar tydens siekte, trauma, gevangenskap). Ekokritiek is nog ’n moontlike benadering: die verval en verglyding van die natuur midde-in die Antroposeen, die verplasing van nie-menslike entiteite (fauna, flora en natuurelemente), en die vernietigende effek van klimaatsverandering (storms, vloede, woestynvorming).

Soortgelyke temas het ook toepassingswaarde in die taalkunde. Ruimte, liggaamlikheid en rigting speel ʼn belangrike rol in die semantiese opbou van kommunikeerbare betekenis en enige stimulusveranderinge kan die semantiese samestelling en die pragmatiese uitwerking van ʼn kommunikasiesituasie raak. Die nabyheid van sprekers aan aangesprokenes in sowel ʼn fisieke as sosiokulturele sin bepaal die wyse waarop taal strategies aangewend word en of die beoogde betekenisoordrag slaag of misluk. Die taallandskap in strate en op virtuele platforms gee ʼn aanduiding van die eb en vloed van Afrikaans en Afrikaanssprekers. Die toename in Afrikaanse handelsname, die gedy van Afrikaansvariëteite op sosiale media en die uitdaag van taalkundige perspektiewe dui alles op kinetiese energie. Taalhoudings wat verskuif, woorde wat ontstaan en wegval, grammatikale konstruksies wat verskyn en verken word. Terselfdertyd bly bekende vrae relevant: hoe praat en skryf ons, hoe wissel ons tussen gespreksdomeine, hoe bring taal ons nader aan mekaar (of dryf ons verder van mekaar af weg), hoe verstaan ons die taalverskynsels wat ons teëkom. Magsverhoudinge, beleefdheidsvereistes en -strategieë, taalverskuiwings, betekenisuitbreiding; watter uitdagings het sprekers mee te kampe en wat (en hóé) moet ons sprekers van die toekoms omtrent taal leer.        

Uiteraard kan daar nie oor kinese nagedink word in die jaar 2027 sonder om die verreikende impak van kunsmatige intelligensie in ag te neem nie. Met die koms van die internet, die persoonlike rekenaar en slimtoestelle, het die reikwydte en toeganklikheid van data ongekende vlakke bereik, maar nou betree ons ’n nuwe era waar inligting en kennis nie net maklik bekombaar is nie, maar aktief deur KI gemedieer word. Wat beteken die KI-rewolusie vir ons vakgebied? Sleutelvraagstukke waaroor taal- en letterkundiges sou kon nadink, sluit in: die kwessie van verantwoordbaarheid en etiek (KI word toenemend 'n de facto-mede-outeur van akademiese navorsing, maar die akademikus moet uiteindelik pa staan vir dit wat gepubliseer word); interpretatiewe agensie en implisiete vooroordele (as mense KI begin gebruik om literêre tekste krities te ontleed); slim ontledingstoerusting vir komplekse taalkundige data (maar hoeveel van die data word onvoorwaardelik in die eter ingestuur); outeurskap en erkenning (wie of wat kry krediet vir die werk); die belangrikheid van KI-geletterdheid onder redakteurs en keurders (om minstens ’n basiese begrip te hê van hoe groot taalmodelle werk) asook vakkundige vlotheid (om te kan onderskei wanneer KI hallusineer); hoe om as geesteswetenskaplikes die menslike stem en die menslike ervaring voorop te stel.